Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) verwelkom die aankondiging deur die Minister dat die hele land teen bek-en-klouseer ingeënt sal word. Die grootste probleem met bek-en-klouseer vir primêre ekstensiewe veeprodusente is nie die siekte self nie, maar die ekonomiese gevolge wat daarmee gepaardgaan.
Bek-en-klouseer toon ligte simptome in ekstensiewe toestande, en die diere genees ten volle, maar die produsent kan nie meer aan die normale markkanale deelneem nie, aangesien sy/haar kudde ingeënt is, en diere slegs vir direkte slagting kan gaan. Dit hou 'n groot probleem in, aangesien die grootste deel van Suid-Afrikaanse beesprodusente 'n koei-kalf-stelsel bedryf, wat beteken dat hulle speenkalwers moet verkoop.
'n Kommoditeit sonder 'n mark, in die geval van bek-en-klouseer. Die virus het 'n beduidende impak op die res van die rooivleiswaardeketting, aangesien voerkrale vir lang tydperke onder kwarantyn moet bly, wat markbottelnekke skep en prysontwrigtings veroorsaak. Die bedryf as geheel word verlam deur hierdie krisis en het derhalwe ‘n dringende oplossing nodig.
Met die aankondiging van die Minister, kan ons nou 'n progressiewe pad volg in terme van inenting, en na ons mening is dit die eerste tasbare stap in die regte rigting. Hierdie is iets waarvoor die RPO, asook sy waardeketting vennote in die Rooivleis Primêre Groepering, met die regering onderhandel het. Hierdie aksieplan beteken dat speenkalfprodusente marktoegang sal herwin, voerkrale sal hul bedrywighede hervat, en ons kan terugkeer na 'n normale vloei van produkte in die rooivleiswaardeketting.
Ons besef egter dat daar nog baie werk gedoen moet word om dit 'n werklikheid te maak. Ons is egter dankbaar dat dele van die grondslag reeds gelê is, soos die identifisering van moontlike entstofverskaffers. Noudat 'n plan op die tafel is, moet die oorblywende werk, soos die verandering van regulasies, voltooi word om dit te implementeer en in werking te stel.
Ons as die RPO wil graag ons bereidwilligheid bevestig om op enige moontlike manier die regering behulpsaam te wees om dit te doen.
NAVRAE:
Dr Frikkie Maré
HOOFUITVOERENDE BEAMPTE
Sel: 084 446 6787
Epos:
