BKB Kompleks, Bloemskou, Curielaan, Bfn 079 529 5000 rpofs@rpo.co.za
Eerste tasbare stap in regte rigting

BKS: 'Eerste tasbare stap in regte rigting'

Dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê die aankondiging dat Suid-Afrika ’n “progressiewe” pad gaan volg ten opsigte van die beheer van bek-en-klouseer deur landwye voorkomende inenting is, “volgens ons, die eerste tasbare stap in die regte rigting”.

Dr. Frikkie Maré

Hy sê die staat se bek-en-klouseer-bestuurstelsel wat tot dusver gegeld het, waaronder die kwarantyn van kuddes wat naby bevestigde uitbrekings van dié siekte is en voorkomend ingeënt word, het ’n geweldige finansiële impak op die land se rooivleisprodusente gehad.

“Voerkrale moet ook vir lang tydperke onder kwarantyn wees, wat probleme in die mark veroorsaak en prysontwrigtings meebring. Die bedryf het desperaat ’n oplossing nodig omdat hierdie krisis die bedryf verlam.”

Die RPO is verheug dat Steenhuisen se aksieplan alle speenkalf-produsente in staat sal stel om marktoegang te herwin, voerkrale sal toelaat om hul bedrywighede te hervat en oor die algemeen daartoe sal lei dat die normale vloei van produkte in die rooivleiswaardeketting kan voortgaan.

“Ons verstaan egter dat baie werk nog voorlê. Noudat ons ’n plan op die tafel het, moet die oorblywende werk – soos die verandering van die regulasies – afgehandel word om dit ingestel en toegepas te kry.

Bennie van Zyl“Die RPO is meer as bereid om op enige moontlike manier te help om die regering in staat te stel om dit te doen.”

‘Betrek private sektor’ – TLU SA

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dié landbou-unie sal die volle omvang van Steenhuisen se aankondiging oorweeg en dienooreenkomstig daarop reageer.

Intussen sê TLU SA egter dat hierdie aankondiging groot spronge in optrede gaan vereis.

“Die instelling en uitvoering hiervan is belangrik. Die staat se vermoë om hierdie nasionale inenting te kan uitvoer, is van groot belang. Die private sektor sal betrek moet word.”

Kontak Inligting

BKB Kompleks, Bloemskou, Curielaan, Bloemfontein.

rpofs@rpo.co.za

079 529 5000

RPO Vrystaat
Volg Ons