BKB Kompleks, Bloemskou, Curielaan, Bfn 079 529 5000 Hierdie e-posadres word teen spambots beskerm. Jy benodig JavaScript geaktiveer om dit te bekyk.
Die voorgestelde nuwe diere-identifikasieregulasies kan veeprodusente met bykomende koste, registrasievereistes en administratiewe rompslomp opsaal

Die voorgestelde nuwe diere-identifikasieregulasies kan veeprodusente met bykomende koste, registrasievereistes en administratiewe rompslomp opsaal

Prof. Andries Raath, regskundige, waarsku ernstige vrae bestaan oor die praktiese uitvoerbaarheid en ekonomiese sinvolheid van die voorgestelde stelsel, en of dit werklik winsgewendheid en volhoubaarheid in die landbou sal bevorder. Hy bespreek die voorstelle met Isabel van Tonder wat geluister kan word by ons Radiopraatjies bladsy.

Prof. Andries Raath, dagbestuurslid van die RPO in die Vrystaat

Die gesprek handel oor die voorgestelde regulasies ingevolge die Wet op Diereverbetering en die praktiese uitdagings wat dit vir produsente kan meebring.

Die konsepregulasies is op 6 Oktober vir openbare kommentaar gepubliseer en is nog nie finale wetgewing nie. Raath meen produsente behoort die voorgestelde stelsel deeglik te ondersoek, veral omdat dit bykomende identifikasievereistes, registrasieprosedures en administratiewe verpligtinge kan meebring.

Volgens hom probeer die voorstelle drie uiteenlopende stelsels saamvoeg wat met diere-identifikasie verband hou, hoewel elkeen sy eie wetgewende grondslag en regulatoriese vereistes het. Hy bevraagteken of die koste van die voorgestelde stelsel deur die verwagte voordele geregverdig sal word.

Raath sê drie vrae behoort die grondslag van landbouregulering te vorm: Bevorder dit winsgewendheid in landbou? Hy meen daar moet ook gevra word of wetgewing volhoubare produksie bevorder en of dit produsente in staat stel om veilig en doeltreffend te boer.

Die regulasies maak voorsiening vir die registrasie van diere en hul eienaars op Integris, ’n elektroniese registrasie- en genetiese inligtingstelsel. Besonderhede soos ’n dier se ouderdom, geslag, gesondheidstatus, identifikasiemerk en plek van aanhouding sal aangeteken moet word.

‘Die konsep verbied ook die verskuiwing van diere tussen persele sonder die vereiste identifikasie’

Produsente sal ook rekords moet hou van geboortes, vrektes, die verskuiwing van diere en mediese behandelings, waaronder inentings, ontwurming en dip. Onttrekkingstydperke wat met behandelings verband hou, sal eweneens aangeteken moet word.

Artikel 5 bepaal volgens Raath dat beeste by geboorte, of voordat hulle ses maande oud is, met ’n goedgekeurde identifikasietoestel gemerk moet word. Die konsep verbied ook die verskuiwing van diere tussen persele sonder die vereiste identifikasie. 

Hy verduidelik dat die voorgestelde stelsel voortbou op bestaande brandmerkvereistes. Die brandmerk moet duidelik wees en met die geregistreerde eienaar se sertifikaat ooreenstem voordat verdere identifikasie aangebring kan word.

Artikel 6 maak onder meer voorsiening vir ’n analoë oorplaatjie in die regteroor en ’n digitale plaatjie in die linkeroor. ’n Mikroskyfie saam met ’n analoë oorplaatjie word ook as identifikasiemetode voorgestel.

Die kleur van oorplaatjies sal verskil volgens die dier se herkoms en ligging. Geel word voorgestel vir diere wat in Suid-Afrika gebore is, groen vir ingevoerde diere en rooi vir diere in bek-en-klouseer-sensitiewe gebiede. Raath sê daar bestaan onsekerheid oor hoe sulke sensitiewe gebiede afgebaken sal word, veral in die lig van bek-en-klouseer se uitwerking op die Vrystaat. Dit is volgens hom een van die praktiese vraagstukke wat nog duidelikheid verg.

Nog ’n vereiste behels die verlies van oorplaatjies, wat binne sewe dae by die departement van landbou of die naaste polisiekantoor aangemeld sal moet word. Voorgeskrewe prosedures vir die vervanging daarvan kan volgens Raath verdere administratiewe laste meebring.

‘Gebrekkige registrasie kan die verhandeling van diere bemoeilik’

Die regulasies strek ook verder as beeste en sluit skape, varke, volstruise, perde, donkies, konyne, honde en byekolonies in. Raath meen dié omvang versterk die vraag of een regulatoriese raamwerk aan die uiteenlopende behoeftes van al hierdie sektore kan voldoen.

Eienaarskapsoordrag is ’n verdere kwessie. Die voorgestelde bepalings vereis dat die huidige en nuwe eienaar se diere op Integris geregistreer moet wees en dat veranderinge binne sewe dae aangeteken word. Raath waarsku dat gebrekkige registrasie die verhandeling van diere kan bemoeilik.

Kontak Inligting

BKB Kompleks, Bloemskou, Curielaan, Bloemfontein.

rpofs@rpo.co.za

079 529 5000

RPO Vrystaat
Volg Ons