Rooivleisbedryf slaan 'n slag vir die verbruiker
Armoede, werkloosheid en swak lewensomstandighede is alles deel van die daaglikse bestaan van talle Suid-Afrikaners en die rede vir 'n
lys van basiese voedselsoorte wat teen 'n nul belastingkoers op toegevoegde waarde (BTW) aangeslaan word. Gedurende die onlangse Begrotingsrede is aangekondig dat die BTW-koers in Suid-Afrika verhoog gaan word, maar om die impak op arm en marginale verbruikers te verminder sal die lys van voedselitems teen die BTW-nulkoers uitgebrei word tot, onder andere, die insluiting van hoofsaaklik afvalprodukte van verskillende spesies.
Hierdie aankondiging is in rooivleisgeledere verwelkom en is die kulminasie van gekoördineerde samewerking deur verskeie rolspelers in die rooivleisbedryf. Dit volg nadat die hoenderbedryf aansoek gedoen het dat sekere individueel-bevrore hoenderporsie (IQF)-produkte van BTW vrygestel moet word. Die rede wat aangevoer is, is dat hoender een van die proteïenbronne is wat die meeste deur lae-inkomste groepe gekoop en verbruik word.
Uitdagings van nul-BTW hoender
In reaksie hierop, het die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in 'n persverklaring daarop gewys dat daar verskeie redes is hoekom daar nie aan so 'n versoek voldoen kan word nie. Sommige van die redes was dat IQF-hoender in Suid-Afrika as 'n luukse produk geklassifiseer moet word op grond van vraag-elastisiteit.
Volgens dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende beampte van die RPO, toon 'n vinnige opsomming van die rakpryse van vleisprodukte dat IQF-hoender die tweede-laagste rakprys het naas beeslewer, maar indien die bene en pekelwater by hoender uit die berekening gehaal word, is hoender eintlik een van die duurste proteïenitems op die rak.
'n Ander rede was dat die BTW-vrystelling van die vleis van een spesie, 'n groot omwenteling in die totale vleismark tot gevolg sal hê en die rooivleisprodusent in Suid-Afrika negatief sal beïnvloed.
Die RPO het uitdruklik genoem dat hulle ten gunste is van die toevoeging van proteïen van dierlike oorsprong tot die lys, maar dat oorweging liefs gegee moet word aan die goedkoper produkte van al die dierespesies, wat meer deur die arm en marginale verbruikers gekoop word. Die voorstel was dus dat daar na die verskillende afvalprodukte gekyk moet word.
'n Gesamentlike poging
Die RPO het met ander organisasies hande geneem en 'n gesamentlike formele versoek is in Oktober 2024 aan die regering gerig om rooivleisafvalprodukte te oorweeg vir insluiting by die lys van 0% BTW noodsaaklike voedselsoorte. Die organisasies betrokke by die aansoek was die Suid-Afrikaanse Vleisverwerkersvereniging (SAMPA), die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (SAVPO), Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) en die Rooivleis-abattoirvereniging (RVAV).
In die aansoek is dit onder die regering se aandag gebring dat produkte soos pens, pote en rooi-afval (longe, hart, lewer en niere) uitstekende proteïenbronne vir die lae-inkomste verbruiker kan wees, aangesien dit bekostigbaar is en goed inpas by die profiel van basiese voedselsoorte.
Op 12 Maart vanjaar het hierdie pleidooi vrugte afgewerp toe die minister van finansies, mnr Enoch Godongwana, tydens die Begrotingsrede aangekondig het dat die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde, 1991 (Wet 89 van 1991) gewysig sal word om die lys van nul-BTW voedselsoorte uit te brei. Die wysiging tree amptelik op 1 Mei vanjaar in werking.
Die wysiging aan Skedule 2 van die wet behels die byvoeging van eetbare bees-, skaap- en bokprodukte wat lewer, hart, niere, sop- en murgbene, stert, ore, tong, binnegoed, skoongemaakte afval, koppe en pote insluit. Wat hoender betref is koppe, pote, afval (lewertjies, niertjies, magies en hartjies) asook skoongemaakte binnegoed ingesluit. IQF-hoenderstukke is, tot die rooivleisbedryf se verligting, nie op die aangepaste lys van produkte ingesluit nie.
Die rooivleisbedryf se versoek en uiteindelike sukses kan as 'n oorwinning vir die bedryf beskou word. Volgens dr Maré was rooivleisprodusente onder geweldige druk die laaste twee jaar met produkpryse wat gedaal het, terwyl insetkoste gestyg het.
Indien die regering sou besluit om IQF-hoender goedkoper te maak, sou dit die prys van hoender in vergelyking met rooivleis drasties laat daal het. Dit sou die vraag na rooivleis, en gevolglik die prys, skerp laat afneem het, wat produsente uit die mark sou druk.
Impak op die verbruikersbeursie
Hoewel geen berekening nog gedoen is oor watter finansiële voordeel die 0% BTW-koers op rooivleis-afval vir die gewone burger se kosrekening sal hê nie, het dr Maré 'n paar aannames gemaak om die waarde en voordele van hierdie deurbraak te verduidelik.
“As die stelsel reg werk en geen bedrog plaasvind nie, behoort verbruikers hierdie produkte aansienlik goedkoper te kry. Die noodwendige gevolg is egter dat die vraag daarna sal styg en daarmee saam ook die prys. Dit sal egter nie met die volle 15% styg nie en behoort dus steeds 'n uitstekende en meer bekostigbare bron van proteïen wees.”
Indien die vraag na rooivleisafvalprodukte styg, gaan almal in die rooivleiswaardeketting daarby baat. Die vyfde kwart, verduidelik hy, is veronderstel om die slagkoste vir 'n abattoir te dek en 'n wins te besorg. Tans is dit egter nie altyd die geval nie en word abattoirs verplig om 'n slagfooi te hef. “Indien die waarde van hierdie afvalprodukte kan styg, raak dit vir abattoirs moontlik om die slagfooi weg te neem of ten minste te verlaag. In die proses kan die produsent dus ook beter af wees, aangesien die slagfooi verminder.”
Die situasie strek dus tot voordeel van rooivleisprodusente, welke voordele sal deursyfer na kleinhandelaars en uiteindelik die primêre verbruiker.
Toepassing van 0% BTW
Ongelukkig is daar min polisiëring van die toepassing van BTW-vrye regulasies en bied enige BTW-vrystelling geleentheid vir bedrog. Dit is haas onmoontlik om byvoorbeeld kleinhandelaars te verhoed om pryse dieselfde te hou nadat die BTW op 'n produk verwyder is, en dus net 'n ekstra marge te vat. Dit is wel 'n funksie van die regering om te verseker dat sulke situasies nie voorkom nie, maar daar is geen formele bepalings in hierdie verband nie.
Een vorm van regulasie is dat die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (SAMIC) die mag het om die etikette van vleisprodukte na te gaan en toe te sien dat afvalprodukte nie as BTW-draende produkte verkoop word nie, en ook om te verseker dat ander produkte nie as afvalprodukte gemerk word nie.
Intussen is die bedryf verheug oor die aankondiging en die feit dat dit verligting kan bring aan verbruikers wat finansieel nie andersins kan bekostig om gesonde proteïenbronne aan te skaf nie. Terselfdertyd bied dit goeie geleenthede vir die rooivleiswaardeketting om afvalprodukte se regmatige plek op die winkelrak te vestig. Die RPO bedank al die organisasies wat kollektief by hierdie poging betrokke was. Samewerking is tot voordeel van die bedryf én die verbruiker.
