Graag gee die RPO vir u die volgende relevante rooivleis inligting deur.

U kan ook die vorige NUUSBRIEWE op die Vrystaat RPO Webtuiste besigtig by www.rpofs.co.za.

Onderwerpe volledig in aanhangsels saamgevoeg.

 

1.    VEEDIEFSTAL

Die Veediefstal eenhede en SAPD gaan geen toegewings meer maak met produsente wie se dokumentasie nie in plek is of diere wat nie geïdentifiseer kan word nie. Vergewis uself van veediefstalwette, veral Artikel 6 (Oordrag van eienaarskap) en Artikel 8 (Veeverwyderingsertifikaat) om uself teen veediewe te beskerm of om te voorkom dat u swaar boetes opgelê kan word.

 

2.   BESMETLIKE MISGEBOORTE - DEEL 2

Ongeag die feit dat 100de miljoene rande se verliese jaarliks gely word weens besmetlike misgeboorte, word die siekte steeds deur produsente onderskat.
Deel 1 is in Februarie 2015 se Nuusbrief.

 

3.    BEES BESTUURSPROGRAM 
 
Daar bestaan 'n groot behoefte aan 'n inentings-bestuursprogram vir beeste. Aangesien produsente se dekseisoene van streek tot streek verskil, kan u die program in samewerking met u plaaslike veearts aanpas om te bevestig of al die siektes in u streek voorkom of bysit wat moontlik nie in die program aangespreek is nie.

 

4.     DROOGTEHULP AANSOEKE

Sien asb. die amptelike Droogte Assesseringsvorm vanaf Departement Landbou. Om in aanmerking te kom vir enige vorm van droogtehulp deur die Staat moet die vorms ingevul word en by u plaaslike voorligtingsbeampte ingedien word teen 25 Maart 2015.


Die statistiek verkry uit die vorms bepaal die omvang van die skade van droogte om politieke besluitnemers te help besluit om die munisipaliteit, distrik of provinsie as droogte-rampgebied te laat verklaar en dan om aan Tesourie en die Nasionale Ramp Bestuurskomitee in te dien vir alokering en uitbetaling aan gebiede wat as rampgebiede klaar verklaar is.


Oorspronklike vorms moet by u plaaslike Voorligtingsbeampte teen 25 Maart 2015 ingedien word.
Maak ook asb. seker dat u 'n afskrif van u vorm hou en laat teken as bewys van indiening by u plaaslike voorligtingsbeampte.
Neem ook kennis dat Afdeling E: saam met u voorligtingsbeampte ingevul moet word (of hy/sy kan wat u ingevul het parafeer).
Dien saam met u vorm 'n afskrif van u ID ook in.


Laastens neem kennis dat die vorm deur u geteken moet wees, asook deur 'n derde party, verkieslik u voorligtingsbeampte, maar indien nie moontlik nie, u Landbouvereniging Voorsitter. Vrystaat Landbou is vriendelik versoek om asb. die vorm aan naburige opkomende boere ook te gee om te verseker dat die skade van die droogte aan almal in aanmerking gebring kan word. Vir enige navrae skakel met Dr. Jack Armour of Cynthia Troost by 051-4444609 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

 

5.     GEDWONGE VEE VERMINDERINGSKEMA WEENS DROOGTE

Hierby aangeheg 'n skema en aansoekvorm van die Landbank van vee wat a.g.v. die droogte verminder moet word.
Die doel van die skema is om, indien u vee moet verminder, te sorg dat daar geen belasting implikasie sal wees tydens die veeverkope nie. Die belegging kan weer onttrek word indien weidingstoestande verbeter en u weer vee wil aankoop.

 

6.    CHEMIESE BEHEER VAN INKBESSIE BOS

Chemiese beheer kan wel toegepas word en gee baie goeie resultate (>85%). Dit is heelwat beter as hand kap. Die enigste probleem is dat die produk wat aanbeveel word, alhoewel as 'n blaarbespuiting toegedien word, ook oor residuele grondeienskappe beskik wanneer dit van die blare afwas tydens baie reën. Bome soos Witstinkhout is bitter gevoelig, maar skade kan ook aan Soetdorings en ander struikgewasse aangerig word. Bespuiting moet dus so akkuraat moontlik gedoen word en onnodige groot hoeveelhede van die produk tydens bespuiting moet voorkom word. Ek verhoog ook bv. die mineraal-olie gedeelte om penetrasie en bedekking te verhoog en onnodige afloop so te vermy.



Die mengsel is as volg:

Browser @ 150ml. + Crop oil @ 150ml. en Volcano/Ecoblue @ 50ml in 10 liter water. 

Doen die bespuiting met 'n rugsakspuit en maak seker 'n "TG 1 Solid cone nozzle" word gebruik en nie waaier tipe "Flat fan nozzle" nie.  Dit sal vermorsing beperk en die mengsel veel akkurater op die teikenplant plaas.  Die kleurmerker word bygevoeg omdat dit toedoening a.g.v. die volgende redes geweldig vergemaklik.
Eerstens kan duidelik gesien word watter plante behandel is en watter nie en tweedens voorkom dit oormatige toediening - die oomblik as die teikenplant en teikenarea (blare en lote) blou vertoon, is genoegsame produk neergesit. Moet asb. nie spuit totdat die mengsel van die plant afdrup nie.


Let wel - 'n opvolgbehandeling gaan nodig wees om plante, wat nie met die eerste bespuiting gevrek het nie, te dood.  Onthou ook dat voëltjies die saad dra en daar moet dus alvorens diere in 'n reeds behandelde kamp ingaan, net weer 'n inspeksie gedoen word t.o.v. nuwe plante wat hervestig het.
(Geskryf deur: Chris Richter (M.Sc Agric.), Probleemplant spesialis, Terra Care Vegetation Consultants (Pty) LTD. Selnr. 0824584558. E-pos - Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.)

 

TEN SLOTTE
 
Hoop die inligting is vir u van waarde. Indien daar enige inligting is waarvan u meer te hore wil kom, laat weet asseblief.
Al beskik onsself nie oor al die inligting nie, gebruik ons kundiges om ons van inligting te voorsien.

Vriendelike rooivleisgroete,

Neels de Villiers
VOORSITTER: VRYSTAAT RPO