1. INLEIDING

Lewendehaweprodusente het die konstitusionele reg en verantwoordelikheid om hul vee te versorg en te beskerm teen alle potensiële bedreigings soos uiterste klimaatstoestande (koue, hitte, droogtes, vloede, brande, ens.), asook teen diefstal en uiteraard teen roofdiere. Hierdie raamwerk van beste praktyke fokus op predasiebestuur en -beheer hanteer 'n aantal (maar is nie beperk daartoe nie) metodes wat produsente as riglyn kan gebruik (alleen of in kombinasie) ten einde hul vee teen predatore te beskerm.

1.1. Alle moontlike bestuursmaatreëls moet ingespan word om probleemdiere op 'n -
1.1.1. sosiaal aanvaarbaar;
1.1.2. ekonomies verantwoordbare/bekostigbare;
1.1.3. ekologies versoenbare; en
1.1.4. wettige wyse te beheer.

1.2. Voorkomende en remediërende bestuursmaatreëls moet geïntegreer word.

 

2. STANDAARDE VIR BESTUURSMAATREëLS

2.1. Voorkomend.

2.1.1. Roofdierwerende sifdraad (jakkalswerend).
2.1.1.1. Dit word sterk aanbeveel dat veral kleinveeprodusente lammerkampe se grensheinings met sifdraad inspan. Die volgende maatreëls moet ingestel word om sifdraadheinings effektief te maak:

2.1.1.1.1. Gebruik SABS goedgekeurde sifdraad met 'n maksimum van 75mm maasgrootte.
2.1.1.1.2. Span sifdraad ten minste een meter hoog.
2.1.1.1.3. Pak sifdraad met klippe vas op die grond vas.
2.1.1.1.4. Maak alle moontlike deurkruipplekke by hekke stewig met sifdraad toe.
2.1.1.1.4.1. Skep enkele klein openinge vir klein diere soos oewerkonyne en skilpaaie waar hulle wel voorkom, om te kan deurkruip. Hang kettings in sulke deurkruipplekke want dit verhoed jakkalse om deur te kruip.
2.1.1.1.5. Hang sleepstawe onder hekke om te voorkom dat roofdiere nie onderdeur kruip nie.
2.1.1.1.6. Inspekteer en herstel heinings waar nodig weekliks.

 

2.1.2. Elektriese omheinings
2.1.2.1. Omgrensende elektriese omheinings en mikro-kampstelsels. Geëlektrifiseerde heinings is nuttig maar hou 'n gevaar vir diere soos skilpaaie, ietermago’s en likkewane in. Die elektriese geleiers moet so gespan word dat dit nie sulke diere sal vaskeer en uiteindelik doodskok nie:
2.1.2.1.1. Span die aardgeleier 10 cm bo die grond sodat dit bg. diere weg van die elektriese draad kan hou. Span dan effens hoër op (20 cm) die eerste lewendige geleier.
2.1.2.1.2. Span die boonste elektriese draad 15 cm bo die gewone heining.
2.1.2.1.3. Heinings moet met alarms toegerus word wat sal alarm maak as diere in die heinings verstrengel raak. Sulke diere moet onmiddellik losgemaak word, beserings moet verkieslik deur 'n veearts behandel word en daarna moet die diere vrygelaat word.
2.1.2.1.4. Lading op die heinings en stroom moet so gestel word dat dit nie 'n dodelike skok vir diere sal toedien nie.

 

2.1.3. Kraling van vee
Krale kan van draadheinings, gepakte klippe of ruwe takke gemaak word. Die volgende kriteria is van belang:
2.1.3.1. Draadheinings moet ten minste 1.4 meter hoog wees.
2.1.3.2. Gepakte klipheinings moet ten minste 1.6 meter hoog wees en met doringdraad of elektriese geleier bo-op toegerus wees.
2.1.3.3. Takheinings moet ten minste 1.6 meter hoog wees en moet ondeurdringbaar gepak word.
2.1.3.4. Takheinings moet aan die binnekant afgewerk word sodat vee nie daardeur beseer word nie.
2.1.3.5. Krale moet gereeld van mis ontruim word om las met vlieë en ander parasiete te bekamp.
2.1.3.6. Genoegsame skoon water moet vir diere voorsien word.
2.1.3.7. Krale waar diere gedurende die dag vertoef moet skaduwee hê waar diere teen warm son kan skuil.
2.1.3.8. Daar moet opgelet word vir oordraagbare siektes omdat veral kleinvee in krale daaraan blootgestel word.

 

2.1.4. Afwering
2.1.4.1. Klankafwering.
2.1.4.1.1. Die klank van mensestemme, musiek of plaasgeluide kan effektief aangewend wend as afweermiddel teen roofdiere. Implementeer die volgende stappe om effektiwiteit te verseker:
2.1.4.1.1.1. Gebruik klanke slegs snags in kampe waar predasie plaasvind.
2.1.4.1.1.2. Skep verskillende klanke met radio’s op verskillende plekke in die kamp.
2.1.4.1.1.3. Verander die radio se klanke elke aand.
2.1.4.1.1.4. Skuif elke radio elke aand na 'n ander plek in die kamp.
2.1.4.1.1.5. Staak die gebruik van klanke na ses weke en implementeer dit weer na 'n maand.

2.1.4.1.2. Ultrasoniese klanke affekteer die roofdier se gehoor en klaarblyklik is dit so erg versteurend dat dit roofdiere weg hou uit die areas waar die klank uitgesaai word. Dit is nie bekend wat die invloed van ultrasoniese klank op die gedrag, produksie en reproduksie van lewendehawe het nie. Produsente moet daarom baie nou let op hul lewendehawe se gedrag, paring en produksie wanneer ultrasoniese afwering aangewend word.
2.1.4.1.2.1. Gebruik toestelle wat pulserende ultrasoniese klanke wek en sodat dit slegs vir kort periodes pulse uitsaai.
2.1.4.1.2.2. Gebruik ultrasoniese klanke slegs vir kort periodes van tyd (vier weke) en wissel dit met gewone klanke af.
2.1.4.1.2.3. Vermy die gebruik van ultrasoniese klanke waar uile en vlermuise in die nabye omgewing is.

2.1.4.2. Ligafwering. Gewone of pulserende ligte kan effektief roofdiere uit kampe hou.
2.1.4.2.1. Gebruik 'n kombinasie van geel, oranje en wit lig.
2.1.4.2.2. Plaas ligte op strategiese plekke oral in die kamp uit.
2.1.4.2.3. Skuif ligte elke aand na ander plekke in die kamp en wissel die onderskeie kleure af.
2.1.4.2.4. Ligte behoort in kombinasie met klankafwering gebruik word.
2.1.4.2.5. Gebruik ligte vir ses weke en staak die gebruik daarvan vir een maand voordat dit weer aangewend word.

2.1.4.3. Reukafwering. Apparate wat roofdierafwerende reuke versprei kan moontlik ook roofdiere uit kampe weghou.
2.1.4.3.1. Plaas apparaat so dat die reuke windaf in die kamp indryf.
2.1.4.3.2. Reukapparaat moet nie vir periodes langer as ses weke aangewend word nie.
2.1.4.3.3. Wissel reukapparate met klank- en ligafwering af.

2.1.4.4. Beskermende en afwerende halsbande. Hierdie halsbande beskerm of die dier teen roofdieraanvalle of het 'n afwerende effek op roofdiere.
2.1.4.4.1. Beskermende halsbande
2.1.4.4.1.1. Beskermende halsbande moet van stewige UV bestande plastiek vervaardig word.
2.1.4.4.1.2. Elke skaap in die kamp moet met 'n halsband toegerus word.
2.1.4.4.1.3. Halsbande moet nie vir langer as ses weke in een kamp aangewend word nie.
2.1.4.4.1.4. Sodra roofdiere kleinvee op ander plekke as aan die keel byt moet die halsbande almal onmiddellik verwyder word.
2.1.4.4.1.5. Wissel beskermende halsbande met reukhalsbande, fluoressente halsbande en klankhalsbande af.
2.1.4.4.1.6. Halsbande moet gemaklik om diere se nekke pas en nie 'n wurgende effek op diere hê nie.

2.1.4.4.2. Afwerende halsbande. Afwerende halsbande sluit halsbande in wat klanke voortbring, van besondere helder kleure gemaak is of bepaalde reuke afskei:
2.1.4.4.2.1. Klokkiehalsbande. Klokkiehalsbande moet op ten minste 'n kwart van die trop aangebring word. Dit moet vir nie langer as ses weke gebruik word nie en met ander halsbande afgewissel word.
2.1.4.4.2.2. Kleurhalsbande. Kleurhalsbande is toegerus met fluoresserende materiaal wat snags lig uitstraal. Dit moet vir nie langer as ses weke gebruik word nie en met ander halsbande afgewissel word.
2.1.4.4.2.3. Reukhalsbande. Hierdie halsbande word van eenvoudige materiaal soos katoen gemaak en met verskillende reuke geïmpregneer sodat daar vreemde reuke in die veetrop bestaan. Dit moet vir nie langer as ses weke gebruik word nie en met ander halsbande afgewissel word.

 

2.1.5. Veewagters
Veewagters kan slegs aangewend word as vee in streng trop verband in klein kampies bestuur word.
2.1.5.1. Daar kan nie van veewagters verwag word om snags saam met diere in die veld te slaap nie.

 

2.1.6. Beskermende diere
Verskeie soorte diere word as teenvoeters teen roofdiere soos rooijakkalse, rooikatte, gevlekte- en bruin hiënas, luiperds en jagluiperds in die veebedryf en selfs die wildbedryf gebruik. Sulke diere moet net soos ander plaasdiere altyd met die nodige sorg en aandag bestuur word. Hulle moet ten alle tye vrye toegang tot kos, water en skuiling hê.

2.1.6.1. Volstruismannetjies. Wend volstruismannetjies aan om jakkalse uit lammerkampe te verdryf.

2.1.6.2. Blesbokramme. Ontplooi blesbokramme in veekampe om rooijakkalse bedags en snags uit kampe te verwilder.
2.1.6.2.1. Daar moet geen blesbokooie in sulke kampe teenwoordig wees nie.
2.1.6.3. Donkiehingste kan aangewend word om rooijakkalse en rooikatte uit kampe te verjaag.
2.1.6.3.1. Onttrek donkies uit kampe sodra lammers begin aankom omdat hulle klein lammers by veesuipings beseer.
2.1.6.4. Alpacas word ook suksesvol aangewend om roofdiere van lewende hawe af weg te hou.

2.1.6.5. Honde
2.1.6.5.1. Anatoliese berghonde is effektief om grootvee, kleinvee en wild teen meeste roofdiere, insluitende leeus, te beskerm.
2.1.6.5.1.1. Koop berghonde aan by telers wat met vee boer en honde in 'n boerdery-omgewing groot maak.
2.1.6.5.1.2. Berghonde moet teen alle hond verwante siektes ingeënt word en gereeld deur 'n veearts ondersoek word.
2.1.6.5.1.3. Berghonde moet elke dag vars kos en drinkwater kry.
2.1.6.5.1.4. Berghonde moet nie toegelaat word om met ander honde op die plaas te meng nie.

2.1.6.5.2. Bokhonde. Dit is honde van ander rasse wat ook soos Anatoliese berghonde in kleinveetroppe grootgemaak word. Dieselfde norme as wat vir berghonde geld, moet met bokhonde toegepas word.

 

2.2. Remediërende bestuursmaatreëls.

2.2.1. Skiet.
2.2.1.1. Onmiddellike optrede. Dit is nodig om onmiddellik nadat predasie plaasgevind het, die aksie te loods om die skadeveroorsaakende indiwidu(e) te skiet.
2.2.1.2. Spesifieke lokaliteit. Skietaksies moet fokus op areas waar predasie plaasvind.
2.2.1.3. Presisie. Gebruik slegs ervare probleemdierjagters.
2.2.1.4. Spesie-identifisering. Probleemdierjagters moet spesies korrek identifiseer voordat daar op hulle geskiet word.
2.2.1.5. Noukeurige gebruik van roepapparaat. Slegs ervare probleemdier- jagters behoort roepapparate te gebruik.
2.2.1.6. Gebruik van rooi soekligte snags. Slegs rooi soekligte moet aangewend word omdat wit lig diere skugter en ontwykend maak.

2.2.1.7. Skiet vanuit helikopters of mikro-ligte vliegtuie. Dit word gedoen deur indiwidue wat die roofdiere uit die lug opspoor en dan vankant maak. Sien die riglyne wat reeds deur die NWKV saamgestel is.
2.2.1.7.1. Slegs professionele probleemdierjagters behoort van helikopters gebruik te maak.
2.2.1.7.2. Grondeienaars oor wie se eiendom daar gevlieg gaan word moet vooraf verwittig word en ook hul toestemming skriftelik verleen dat daar wel op hul gronde roofdiere per helikopter gejag mag word.

2.2.2. Vangysters met verstelbare snellerplate
2.2.2.1. Slegs indiwidue wat opgelei is om vangysters te gebruik, moet sulke apparate stel.
2.2.2.2. Vangysters moet verstelbare snellerplate hê.
2.2.2.3. Die ideale snellermassa is 1.8 kg kilogram.
2.2.2.4. Vangysters se kake met 'n opening van ten minste 5 mm hê om beenbreuke by die teikendier se bene te voorkom.
2.2.2.5. Vangysters moet nie in die normale looppaadjies van diere gestel word nie maar so gestel word dat dit uit die sig en looppad van ander diere is. Dit moet ook nie in voertuidpaadjies, langs grensheinings, onder deurloopplekke of langs drinkplekke gestel word nie.
2.2.2.6. 'n Anker moet gebruik word om die slagyster vas te pen sodat die dier wat daarmee gevang is, nie daarmee wegloop nie.
2.2.2.6.1. Die anker moet met 'n ketting onderaan die slagyster geheg word.
2.2.2.6.2. Die ketting moet twee draaiskywe bevat sodat die slagyster vryelik kan beweeg.
2.2.2.7. Vangysters moet ten minste een keer elke dag nagegaan word sodat diere nie vir langer as 'n paar ure daarin sal vassit nie.
2.2.2.8. 'n Geskikte lokmiddel soos uriene of mis van die teinkendierspesies, moet gebruik word. Verkry sulke materiaal van diere wat in wettige fasiliteite aangehou word of versamel dit van diere wat vankant gemaak is. Soek ook na vars mis elders op die plaas waar die diere mag wees. Roofdiere mag nie vir die doeleindes van mis- en urienversameling aangehou word nie.

 

2.2.3. Inloop vanghokke
2.2.3.1. Vanghokke moet van stewige metaal vervaardig word en nie skerp kante hê wat diere sal beseer nie.
2.2.3.2. Vanghokke moet sodanig gestel word dat daar skaduwee is gedurende die warm tye van die dag.
2.2.3.3. Vanghokke moet ten minste een keer elke dag nagegaan word.
2.2.3.4. Spesifieke vereistes vir verskillende spesies:

 

2.2.3.4.1. Rooikat
2.2.3.4.1.1. Die hok moet langs die rooikat se looppad geplaas word en net aan die sykante met takke toegepak word.
2.2.3.4.1.2. 'n Opgerolde bolletjie aluminiumfoelie moet in die vang gedeelte van die hok opgehang word.
2.2.3.4.1.3. Lokaas in die vorm van skaapvleis of bokvleis is die aangewese manier om die rooikatte na die hokke te lok.
2.2.3.4.1.4. Dit is ook sinvol om urine van 'n rooikat te versamel en as reuklokmiddel in 'n sandbak in die hok te plaas. Uriene kan bekom word vanaf dieretuine wat rooikatte aanhou en ook vanaf rooikatte wat desnoods vankant gemaak moet word.
2.2.3.4.1.5. Wanneer 'n rooikat wel gevang is, moet dit op menslike wyse vankant gemaak word indien dit nie losgelaat word nie. 'n Enkele kopskoot met 'n mediumkaliber vuurwapen is die vinnigste en beste manier om so 'n dier vankant te maak.

 

2.2.3.4.2. Luiperd
2.2.3.4.2.1. Die hok moet baie sterk en stewig wees en moet verkieslik naby die luiperd se krapboom geplaas word en glad nie met enige materiaal bedek word nie.
2.2.3.4.2.2. Stukke verrottende lokaas moet direk in die vanghok geplaas word en dit moet met draad vasgemaak word.
2.2.3.4.2.3. Bloedspore moet met die lokaas uit verskillende rigtings vanaf 100 meter van die hok af na die hok gesleep word.
2.2.3.4.2.4. Die hok moet verkieslik ook in die grond met penne geanker word.
2.2.3.4.2.5. Wanneer 'n luiperd gevang is, moet die hok met 'n dik seil bedek word sodat die dier kalm bly.
2.2.3.4.2.6. 'n Veearts behoort die dier te verdoof voordat dit vervoer word om te keer dat die luiperd beserings in die hok opdoen.
2.2.3.4.2.7. Wanneer 'n wyfie wat oënskynlik soog gevang word, moet alles moontlik gedoen word om die kleintjies op te spoor sodat hulle na geregistreerde rehabilitasiesentrum vir grootmaak en vrylating geneem kan word.
2.2.3.4.2.8. Wanneer 'n luiperd vrygelaat word, moet alle indiwidue binne die veiligheid van voertuie wees om aanvalle van die geïrriteerde luiperd te ontkom.

 

2.2.3.4.3. Jagluiperd
2.2.3.4.3.1. Jagluiperds word geredelik gevang deur 'n takkraal van ongeveer 20 meter in deursnee te bou en 'n inloop vanghok as die enigste ingang in die kraal te voorsien.
2.2.3.4.3.2. Vangkrale moet opgerig word waar die diere aktief is soos by hulle speelbome.
2.2.3.4.3.3. Die inloopvanghok moet aan die agterkant oop wees en bo-op met stewige doringbosse bedek wees.
2.2.3.4.3.4. Die lokaas is ten beste 'n lewendige boerboklam of selfs volwasse boerbok.
2.2.3.4.3.5. Wanneer 'n jagluiperd gevang is, moet die hok bedek word en die dier kan gemaklik vervoer word.
2.2.3.4.3.6. Wanneer 'n wyfie wat oënskynlik soog gevang word, moet alles moontlik gedoen word om die kleintjies op te spoor sodat hulle na geregistreerde rehabilitasiesentrum vir grootmaak en vrylating geneem kan word.
2.2.3.4.3.7. Jagluiperds mag nie doodgemaak word nie en moet hervestig word.

 

2.2.3.4.4. Bruin hiëna
2.2.3.4.4.1. Luiperdvanghokke is noodsaaklik vir bruin hiënas omdat die diere geweldig sterk is en hulle swak hokke maklik oopbreek.
2.2.3.4.4.2. Die hokke kan naby die plek waar predasie plaasgevind het, opgerig word en kan sonder enige bedekking gestel word.
2.2.3.4.4.3. Die beste lokaas is lammer karkasse of selfs dooie hoenders.
2.2.3.4.4.4. Reukspore kan ook na die hok gesleep word om die hiëna nader te lok.
2.2.3.4.4.5. Wanneer bruin hiënas gevang word moet hulle hervestig word en nie vankant gemaak word nie.
2.2.3.4.4.6. Wanneer 'n wyfie wat oënskynlik soog gevang word, moet alles moontlik gedoen word om die kleintjies op te spoor sodat hulle na geregistreerde rehabilitasiesentrum vir grootmaak en vrylating geneem kan word.
2.2.3.4.4.7. Hokke hoef nie met enige plante verskans te word nie, maar maar moet wel bedek word nadat die diere gevang is om hulle kalm te hou.
2.2.3.4.4.8. Dit is wenslik om hulle te laat verdoof deur 'n veearts voordat hulle vervoer word.

 

2.2.3.5. Otters
2.2.3.5.1. Otters word maklik met rooikatvanghokke gevang.
2.2.3.5.2. Gebruik reste van eende, ganse of klein lammers as lokaas.
2.2.3.5.3. Vanghokke moet langs visdamme opgerig word en moet stewig geanker word sodat die dier se beweging in die hok nie daartoe lei dat die hok in die water val nie.
2.2.3.5.4. Wanneer otters gevang word moet hulle hervestig word en nie vankant gemaak word nie.

 

2.2.3.6. Silwervos en groukat
2.2.3.6.1. Gewone rooikatvanghokke met lammerreste as lokaas werk baie goed vir beide diere.
2.2.3.6.2. Wanneer hulle wel gevang word, is dit wenslik om hulle in klein (5 meter by 5 meter) draadkampies met draadbedekking bo-oor aan te hou tot tyd en wyl lammers te groot is om deur hulle gevang te word. Let wel dat alvorens so iets aangepak word die grondeienaar eers die nodige permit by die provinsiale natuur-bewarings- owerheid moet bekom ten einde dit wettig te mag doen.
2.2.3.6.3. Die diere moet van koelte (takke oor 'n deel van die hok), vars water en daaglikse kos soos springhaas- en haas-reste voorsien word.
2.2.3.6.4. Wanneer die predasietyd verby is, moet hulle weer in hul eie gebied vrygelaat word.

 

2.2.3.7. Addisionele veiligheidsmaatreëls vir vanghokke
2.2.3.7.1. Diere met lang sterte soos luiperds en jagluiperds se sterte word soms erg beseer wanneer die valhekke daarop val. Dit is dus wenslik om die onderkant van die valhek met dik sponsagtige rubber te bedek om sulke beserings te voorkom.
2.2.3.7.2. Ongebruikte vanghokke moet nie in die veld gelaat word en moet veilig op die plaaswerf in 'n stoor gebêre word sodat dit nie in die hande van stropers val nie.

 

2.2.4. Gebruik van gifstowwe

2.2.4.1. Giflokaas
2.2.4.1.1. Geen vergiftigde lokaas mag in Suid-Afrika gebruik word nie.
2.2.4.1.2. Regulasie Nr. R1716 van 26 Julie 1991 van die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947 (Wet Nr. 36 van 1947) verbied die gebruik van enige plaag-doders vir doeleindes anders as dit wat op etikette aangedui word.
2.2.4.1.2.1. Daar is geen plaagdoders vir die doodmaak van roofdiere geregistreer nie en dus mag geen plaagdoders sodanig aangewend word nie.

 

2.2.4.2. Gifhalsbande
2.2.4.2.1. Gifhalsbande wat met natriummonofluoorasetaat gevul is, mag wel gebruik word om skadeveroorsaakende roofdiere selektief mee vankant te maak. Geen ander gifstowwe mag in gifhals-bande gebruik word nie.
2.2.4.2.2. Gifhalsbande mag ook slegs gevul en voorsien word deur indiwidue wat die nodige permitte ingevolge die Wet op Gevaarhoudende Stowwe, 1973 (Wet Nr. 15 van 1973) daarvoor het.
2.2.4.2.3. In ’n kamp waar predasie plaasvind word 'n aantal jong lammers met gifhalsbande toegerus en saam met volwasse skaap in die kamp geplaas.
2.2.4.2.4. Enige roofdiere wat met gif vankant gemaak is, moet onmiddelik baie diep begrawe of totaal verbrand word om sekondêre vergiftiging te voorkom.

 

2.2.5. Jag met honde
2.2.5.1. Soek, vind en vankant maak.
2.2.5.1.1. Slegs opgeleide jaghonde moet gebruik word.
2.2.5.1.2. Honde moet nie vryelik in die veld rondhardloop nie en aan leibande gehou word totdat die teikendier sigbaar word.
2.2.5.1.3. Jaghonde moet baie goed versorg word sodat hulle nie uit hongersnood agter wild aanhardloop en op die manier jag nie.
2.2.5.1.4. Jaghonde moet gereeld ingeënt word en deur 'n veearts ondersoek word ten einde optimale gesondheid te verseker.

2.2.5.2. Soek en vind. Dis waar honde gebruik word om die roofdier se spoor te vat en die dier te vind waarna die roofdier dan doodgeskiet word.
2.2.5.2.1. Honde moet as spoorhonde opgelei word.
2.2.5.2.2. Honde moet nie losgelaat word om self die roofdier dood te maak nie.
2.2.5.2.3. Indien die roofdier opgespoor word moet dit geskiet word.

2.2.5.3. Opspoor te perd en dan doodmaak. Dis waar perderuiters die roofdier se spoor vat en die roofdier dan in 'n skuiling, soos 'n erdvarkgat, injaag.

 

2.3. Opleiding deur gekwalifiseerde persone en kredietwaardige instansies
Beginsels van predasiebestuur, identifisering van predatore verantwoordelik vir veeverliese en die gebruik van geskikte beheermaatreëls is onontbeerlik. Skakel gerus met die sekretariaat van die Predasie Bestuursforum vir verdere inligting in die verband of om 'n kursus aan te vra. Opleiding is belangrik vir beide die produsent, asook die plaaspersoneel wat by lewendehawebestuur en -produksie betrokke is.

 

2.4. Samevatting
Die omvattende verskeidenheid metodes om roofdiere mee te bestuur gee vir veeboere en wildboere genoeg opsies om die predasieprobleem redelik effektief aan te spreek. Dit is belangrik om alle opsies te oorweeg en verskeie gelyktydig te ontplooi. Voorkomende maatreëls is meestal goedkoper as remediërende maatreëls en beskerm ook die produsent se vee en wild teen aanvalle van roofdiere.

Verder meer behoort boere binne gemeenskapsverband saam te werk omdat roofdiere oor baie groot areas beweeg en 'n enkele dier op verskeie plase skade sal aanrig. Uitwissing van roofdiere is nie haalbaar nie maar die predasie kan wel beheer word met goeie beplanning en die ekologies sensitiewe aanwending van bestuursmaatreëls.