Die RPO Vrystaat se verbintenis ter ondersteuning van die rooivleisbedryf in die Vrystaat in die algemeen en om rooivleisprodusente spesifiek by te staan sodat hulle winsgewend, volhoubaar en veilig hul bydra tot die ekonomie kan lewer, noop die RPO Vrystaat om strategiese samewerkingsooreenkomste met ander rolspelers te sluit en deur wedersydse ondersteuning en gesamentlike fokus op veediefstalvoorkoming, kragte saam te snoer om die bestaande uitdagings wat veediefstal bied, te oorkom.
Dit is met dankbaarheid en trots dat RPO Vrystaat die formalisering van ‘n samewerkingsooreenkoms met SAPIS bekend maak. Ander rolspelers op die terrein van rooivleisproduksie word uitgenooi om by hierdie bondgenootskap betrokke te raak ten einde die produsente van meer professionele ondersteuning in veediefstalvoorkoming te voorsien.
Die samewerkingsooreenkoms tussen RPO Vrystaat en SAPIS vind plaas op ‘n moment waarin rooivleisprodusente ernstig deur veediefstal en gepaardgaande misdaad gekortwiek word.
Met uiterste kommer is kennis geneem van die afmetings wat veediefstal in die Vrystaat aanneem. Die eskalering van veediefstal in die Vrystaat die afgelope twaalf maande noop die RPO Vrystaat om alle rolspelers by voorkoming van veediefstal te betrek, in ʼn poging om die geweldige impak van veeverliese op die Vrystaatse ekonomie teen te gaan.
Nie alleen word rooivleisprodusente se winsgewendheid en volhoubaar aan bande gelê nie, maar word ook bedreig deur misdaad wat hand aan hand met veediefstal gaan. Betredings, brandstigting, saakbeskadiging en ander misdade teen eiendom en lewe gaan dikwels ook gepaard met diefstal van groot- en kleinvee.
Die afgelope vergadering van die Veediefstalvoorkomingsforum in die Vrystaat het kennis geneem van die verwagte toename in veediefstal en aanverwante misdrywe in die aanloop tot die komende Feesseisoen. Produsente word versoek om hul waaksaamheid te verskerp, patrollies en ander inisiatiewe deur veiligheidsgroepe en Boere-unies daadwerklik te ondersteun en basiese veiligheidstappe te neem om hulself en hul geliefdes effektief te beskerm.
Produsente word voorts versoek om alle misdrywe by die SAPD aan te meld en die nodige druk toe te pas om ondersoek van gerapporteerde misdade te verseker.
Die SAPD word versoek om meer sigbaarheid in landelike gemeenskappe en in boeregemeenskappe te handhaaf, gerapporteerde misdrywe met toewyding te ondersoek en produsente wat reeds onder groot druk verkeer deur wetstoepassing te ondersteun. Die RPO Vrystaat is ook van oortuigings dat die bedreiging wat onwettige toestroming van vreemdelinge uit Lesotho en ander grensgebiede bied, deur die betrokke ministeries met meer erns en daadwerklike optrede hanteer behoort te word.
Vir die RPO Vrystaat is dit duidelik dat winsgewende en volhoubare rooivleisproduksie deur versekering van landelike veiligheid, slegs bewerkstellig kan word indien alle belanghebbendes in die georganiseerde landbou sowel as kommoditeitsorganisasies hande vat om die uitkringende effek van veediefstal te stuit.
Links agter: Bouwer Baupt (SAPIS), Nico Buys (Voorsitter RPO) Hans Annandale, Voorsitter Veediefstalvoorkomingsforum Vrystaat
Voor links: Jurg Kruger (SAPIS, Prof Andries Raath (Vise-Voorsitter RPO), Carine Annandale Bedryfsbeampte