Foto: Andries Gouws
Foto: Andries Gouws

Brasilië beplan om sowat $12 miljoen se rooivleis na Suid-Afrika uit te voer, maar die wisselkoers kan egter dié plan bemoeilik. Suid-Afrikaanse vleismarkte is heropen vir Brasiliaanse vleisinvoere nadat invoere van dié land sedert 2005 gestaak is. Invoere van vleis vanuit die Suid-Amerikaanse land is gestaak weens die voorkoms van bek-en-klouseer, asook beessponsvormige harsingontsteking (BSE).

Suid-Afrikaanse gesondheidsbeamptes het egter onlangs weer plaaslike markte heropen vir rooivleis en varkvleis vanaf Brasilië.

 

Die Brasiliaanse Departement van Landbou, Vee en Verskaffing (MAPA) sê dat daar gehoop word dat die land sowat VSA$7 miljoen se varkvleis en sowat VSA$12 miljoen se rooivleis na Suid-Afrika kan uitvoer. Volgens mnr Bertus van den Heever, raadslid van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Suid-Afrika is daar egter nie rede tot kommer vir plaaslike produsente nie.

“Die swakker rand is in hierdie geval ’n beskerming vir plaaslike produsente, omdat ’n wisselkoers van sowat R12 tot $1 beteken dat plaaslike produksie baie goed kan kompeteer vir die verbruikersrand teen ingevoerde produkte,” sê hy. Boonop moet Brasiliaanse vleisinvoere ook meeding met ander vleisinvoere, veral vanuit Botswana.
Van den Heever meen ook dat die huidige droogte die aanbod van rooivleis oor die komende paar maande gaan opstoot, wat verdere afwaartse druk op roovleispryse gaan uitoefen. “Ons is dus nie te bekommerd oor die huidige situasie van vleisinvoere vanaf Brasilie nie. Daar is genoeg mededinging vir ingevoerde rooivleis om plaaslike produksie te beskerm,” sê hy.

Deur Gerrit Bezuidenhout