presisieveeboerderyPresisieboerdery in die saaibedryf is lank reeds nie meer ’n nuwe begrip nie - dit is eenvoudig staande praktyk ter wille van oorlewing.

In die Veebedryf het dit ook nou ’n bepalende faktor geword en word algemeen aanvaar dat veeboere wat nie daadwerklike pogings gaan aanwend om hulself in hierdie verband te skool en in te rig nie, dit eersdaags moeilik gaan vind om te oorleef.

 

 

Wat is presisieveeboerdery?

Dit is die effektiewe aanwending van alle beskikbare hulpbronne, inligting en tegnologie wat kan lei tot die minimalisering van risiko’s en die maksimalisering van wins.

Die doelwit van ’n kommersiële veeboer behoort te wees om hulpbronne waaroor hy beheer het só te bestuur dat hy ’n kudde vroulike diere het wat aangepas is in sy omgewing en elke jaar ’n swaar kalf relatief tot die ma se gewig, speen.

Die stoetteler daarenteen, wil afgesien van bogenoemde, nageslag produseer wat gemete meerderwaardigheid toon - met ander woorde nageslag wat geneties beter is as hul ouers vir die verskillende produksie-eienskappe wat ekonomies belangrik is.

As produsent van verbeterde genetika, het die stoetteler eerstens ten doel om meerderwaardige gene aan mede-stoettelers te voorsien en tweedens genetika aan die breër kommersiële produsent wat laasgenoemde weer in staat kan stel om hoër produksiepeile van vleis, melk en vesel te bereik.

Produksie van geloofwaardige hoë waarde genetika, is vir die stoetteler slegs moontlik indien hy in sy teeltbeleid die betroubare aantekening van geboortes, ouers en eienaarskap tesame met produksie-meting met ’n diere-aantekeningstelsel op ’n betroubare databasis, toepas.

Om egter presisie boerderypraktyke toe te pas om 'n suksesvolle boer te kan wees, sal slegs moontlik wees met 'n positiewe ingesteldheid teenoor boerdery.

Om tans, in die omstandighede waarin boerdery in Suid-Afrika bedryf moet word,  by die veebedryf betrokke te kan wees, is opsigself 'n groot rede om positief te wees vergeleke met van die probleme waarmee ander boerderyvertakkings worstel.

 

Wanneer mens kyk na die globale ekonomiese toetstande van die afgelope paar jaar, dan is dit verblydend dat die veebedryf beslis nie die negatiewe klimaat tot dieselfde mate as ander sektore, ervaar het nie. 

Vleispryse het tot 'n groot mate gestabiliseer, die droogte van die afgelope jaar ten spyt en alhoewel speenkalf pryse basies dieselfde is as tien jaar gelede, maak diegene wat op presisieveeboerdery ingestel is, wel nog 'n bestaan aangesien hulle meer koste-effektief kan produseer.

As gelet word op die inligting in Grafiek 1, is dit duidelik dat, ten spyte van 'n progressiewe verhoging in produksie sedert 2006, daar nie voldoen word aan die stygende verbruik van rooivleis nie en is Suid-Afrika steeds 'n netto invoerder van rooivleis.

 

 

GRAFIEK 1  :  Produksie, verbruik, karkas- en speenpryse van beesvleis oor tyd.

Met erkenning aan Prof Johan Willemse

 

 

 

Dit is dus duidelik dat die veebedryf dié sektor in die Landbou is, waarby dit goed is om betrokke te wees, want enige landbouprodusent is in 'n voordelige posisie as hy 'n produk produseer waarin daar 'n tekort is.

Vir beesboerdery byvoorbeeld, is die kapitaalbelegging in Rand per hektaar, omgewerk na per GVE, laer as vir enige ander landbouproduk in alle streke.  Dit word verder aanvaar dat die ekonomiese waarde van appresiasie van vee in vergelyking met die depresiasie van trekkers en implemente, nie onderskat mag word nie.

Hoeveel saaiboere sal nie daarvan kan getuig dat hul vee hul deurgehaal het in ’n seisoen wat die saaiery hulle in die steek gelaat het nie?

Die veebedryf met al sy produkte maak 43% van die BBP (Bruto Binnelandse Produk) van landbou uit.  Die res word deur al die ander landbouprodukte saam, opgemaak.  Die veebedryf is dus inderdaad die ruggraat van die Suid-Afrikaanse landbou.

Maar, een van die grootste gevare vir enige produk is dat daar 'n behoefte geskep word, waarin nie voorsien kan word nie.

Dit word beraam dat  73% van Suid-Afrika se grond, slegs geskik is vir veeboerdery. Groot dele is semi-aried en selfs aried en het gevolglik 'n lae produksiepotensiaal. Maar steeds – vee is in elk geval al waarmee in hierdie gebiede geboer kan word.

Hierdie positiewe aanwysers in die veebedryf, is egter geen waarborg dat veeboerdery inderdaad op die medium en lang termyn, winsgewend sal bly nie. Die gemiddelde vlak van produksie van die Nasionale kudde, is eenvoudig nie tekenend van 'n volhoubare besigheid nie.

Daar is 'n groot deel van ons veeboere, stoet sowel as kommersieel, wat rekord hou, meet en selekteer en suksesvol produseer.  Daar is egter ongelukkig 'nveel groter groep wat dit nie doen nie en wie se diere onder gemiddeld produseer.  Met 'n beraamde Nasionale kalfpersentasie byvoorbeeld van onder 60%, is dit duidelik dat daar 'n groot probleem met produktiwiteit in ons Nasionale kudde is.

Hierdie is ook 'n groot uitdaging vir die bedryf.  Insetkostes, ook vir die veeboer, het so 'n vlak bereik dat dit eenvoudig nie meer moontlik is om suksesvol of selfs lewensvatbaar te bestaan met diere wat onder gemiddeld reproduseer en produseer nie.

Per kapita verbruik van rooivleis is geleidelik besig om te styg soos duidelik blyk uit Grafiek 1.  Dit, tesame met die feit dat die aanvraag verder styg weens die bevolkingsaanwas en die toename in persone met hoër inkomste, skep 'n groter tekort as wat in elk geval ervaar word.

Die enigste manier waarop daar in hierdie vraag voorsien kan word indien binnelandse produksie nie verhoog nie, is om òf na alternatiewe soos hoendervleis te swaai, òf om meer vleis in te voer.

Wat 'n uitdaging en wat 'n geleentheid!

Hierdie geleentheid moet aangegryp word om, nie net meer nie, maar meer doeltreffend te produseer tot so 'n mate dat daar nie na ander opsies gekyk hoef te word nie.

Daar sal egter slegs aan hierdie uitdaging voldoen kan word indien:
Onproduktiewe gebiede en -boere meer produktief raak; en
Bestaande kommersiële produsente meer koste-doeltreffend produseer.

Dit is alleenlik moontlik indien met die regte diere op die regte plek op die regte manier geboer word - dus, presisieboerderypraktyke.

 

Wat behels presisieboerdery in die Veebedryf?

Daar is vandag beswaarlik 'n saaiboer wat 'n redelike bestaan maak wat nie presies weet wat sy grondsamestelling is en wat hy presies moet aanvul vir 'n spesifieke opbrengs met 'n spesifieke saadkultivar nie. Verder bepaal hy presies hoeveel kunsmis per hektaar hy moet toedien, presies hoeveel saad per hektaar geplant moet word, hoe diep geplant moet word in die spesifieke grondtipe en les bes, monitor hy dit presies, want hy kan eenvoudig nie bekostig om een sak kunsmis of een kilogram saad te veel of te min neer te sit nie. Daarvoor is die risiko’s wat hy nie kan beheer nie, te groot en die marges te klein. Daarom moet hy die beheerbare risiko’s, met al die hulpmiddels tot sy beskikking, optimaal bestuur.

As prysnemers is die Suid-Afrikaanse boer in 'n baie moeilike posisie en moet hy alles moontlik doen om die risiko’s waaraan hy niks of weinig kan doen, sover as moontlik te verskans deur dié wat hy wel kan beheer.

Dit geld beslis ook vir die veeboer, stoet sowel as kommersieel. Dit blyk egter dat hierdie beginsel nog nie deurgedring het tot die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaanse veeboere nie as in ag geneem word dat slegs ongeveer 15 % van alle suiwelbeeste in melkaantekening is, slegs ongeveer 5 % van alle vleisbeeste vir produksie aangeteken word en kleinvee produksie-aantekening amper nie noembaar is in verhouding tot die totale kleinvee bedryf nie.

Die toekomstige suksesvolle veeboer, stoet sowel as kommersiële boer, sal minstens die volgende moet doen:

  •  'n Erkende plaassagteware program aanskaf vir aantekening van dier-inligting en hierdie inligting op Stamboek se Logix-aantekeningprogramme laat verwerk.

 

  •  Al sy diere met 'n unieke nommer identifiseer.
  •  Die vaar van elke kalf/lam aanteken - óf deur enkel vaar parings toe te pas óf deur DNS toetse met meervaar parings.

 

  •  Elke geboorte met moer nommer en geboortedatum aanteken.
  •  Sover as moontlik geboortegewigte neem.

 

  •  Die gewig van die moer en kalf/lam by speen aanteken.
  • Addisioneel hiertoe is dit betekenisvol om potensiële vervangingsverse/ooie se na-speen gewigte aan te teken.

 

  • Vleisbees, Kleinvee- en Wildboere, moet deelneem aan die Logix Vleis, Logix Kleinvee of Logix Game programme van S A Stamboek.

Hierdie programme en dienste verwerk alle gemete inligting tot bruikbare gegewens, verslae en selfs BLUP teelwaardes (stoettelers) vir die identifikasie van die mees produktiewe en winsgewende diere vir seleksiedoeleindes.

Dit is verder belangrik dat die progressiewe veeboer toegang het tot diensverskaffers wat op hoogte is van die nuutste tegnologie en veekundige teelt hulpmiddels soos byvoorbeeld Genomiese ontledings wat reeds besig is om 'n omwenteling in teling en seleksie in die praktyk, teweeg te bring.

Genoemde dienste is beskikbaar vir alle stoet en kommersiële produsente, waar van toepassing, en daar is genoeg bewyse dat dit die enigste wyse is waarop presisieboerdery betekenisvol bedryf kan word, risiko’s beperk kan word en dus die beste kans bied tot langtermyn winsgewendheid in veeboerdery.

In Grafiek 2 word aangetoon hoedat 'n ras wat verpligte produksie-aantekening doen, oor jare (1975-2013) met behulp van die sinvolle toepassing van produksiemeting as hulpmiddel, daarin geslaag het om die genetiese tendense vir speengewig, naspeengroei en melkproduksie, betekenisvol te verbeter, terwyl geboortemassa konstant gehou is. In dieselfde tyd het volwasse gewig wel ook verhoog, maar nie tot nadeel van die ander eienskappe nie.

 

 

GRAFIEK 2  :  Genetiese tendense van verskillende eienskappe by ras x.

(Dr Helena Theron : S A Stamboek)

 

 

 

GRAFIEK 3: Genetiese tendense van Koei vrugbaarheidseienskappe by ras x.

(Dr Helena Theron : S A Stamboek)

 



Wat verder van groot ekonomiese waarde is, is dat die ouderdom van eerste kalwing en tussenkalf periode (vroulike vrugbaarheid), oor dieselfde periode in dieselfde ras, ook betekenisvol verbeter het (Grafiek 3), terwyl terselfdertyd vir die ander groei- en produksie-eienskappe geselekteer is.

Presisieboerdery in die veebedryf, met ander woorde deur te meet en aan te teken en dit te gebruik, werk!

 

Dr Pierre van Rooyen (S A Stamboek)