Die Waarde Van Geregistreerde Rasegte Bulle1.         Tydens enige gesprek oor vleisbeesboerdery, stoet sowel as kommersieel, is die eerste onwillekeurige gedagte : ras


2.         Wat is 'n plaasdier ras?
2.1       Die Diereverbeteringswet definieer ras, as volg:
"ras"is 'n populasie van diere wat 'n nageslag voortbring wat oor 'n hoë graad van genetiese stabiliteit beskik soos blyk uit identifiseerbare eenvormigheid in rasstandaarde en -prestasie.

 

2.2       Rasse het oor tyd ontwikkel deur eerstens, natuurlike seleksie weens omgewingsbeperkings en tweedens op grond van seleksie deur mense of gemeenskappe om te voldoen aan hul spesifieke behoeftes vir melk, vleis, vesel, aanpasbaarheid, ens.

            'n Ras is dus 'n groep diere, gegroepeer (geselekteer), ontwikkel en beheer deur menslike ingrype met gevolglike spesifieke of unieke eienskappe ten opsigte van vorm, kleur, produksie en funksionele doeltreffendheid. Hierdie eienskappe het uiteraard ook 'n direkte ekonomiese waarde.

            Volgens die Diereverbeteringswet is 'n groep eenvormige diere slegs 'n "ras" indien dit deur die Registrateur van Diereverbetering as 'n ras verklaar is en as sulks in die Staatskoerant afgekondig is. So is daar 37 vleisbeesrasse tans verklaar.

            'n Verklaarde ras kan óf 'n bestaande verklaarde ras wees, óf 'n ras wat volgens wetenskaplik gefundeerde teeltbeginsels, ontwikkel is. Dit is egter nie bloot die samevoeging van twee of meer bestaande rasse en nou het jy 'n "nuwe" ras nie. In laasgenoemde geval is die resultaat, wat dikwels merkwaardig is, hoofsaaklik weens heterose (basterkrag), en nie noodwendig oordraagbaar nie.

            Nee, die ontwikkeling van 'n saamgestelde ras, verg gestruktureerde insette, deeglik beplan op grond van veekundige reëls en beginsels wat gedissiplineerd toegepas word. Dit neem gewoonlik 5-6 generasies(tussen 30 en 40 jaar) van doelgerigte teling en seleksie, gegrond op genoemde beginsels, voordat hierdie ontwikkelende populasie as ras verklaar kan word.

 

3.         Die unieke eienskappe (visueel en produksie) wat vleisbeesrasse van mekaar onderskei, is die grootste bepalende faktor wanneer 'n veeboer moet besluit met watter ras hy wil boer.

4.         Hierdie spesifieke unieke eienskappe is dus die rede vir 'n ras se voortbestaan. Indien hierdie eienskappe nie ekonomiese waarde het en werklik vas geteel is in 'n ras nie, sal die impak van die ras noodwendig mettertyd vervaag tot 'n skamele "sentimentele" bestaansreg.

5.         Die enigste manier egter hoe hierdie rasspesifieke unieke eienskappe nie net vir 'n ras behou kan word nie, maar meer belangrik, verder uitgebou (verbeter) kan word, is deur gestruktureerde evaluering van die eienskappe en beplande seleksie daarvoor binne 'n bepaalde teeltbeleid wat doelgerig toegepas word.

6.         Dit sal alleenlik suksesvol plaasvind, binne 'n gestruktureerde telersorganisasie met minimum standaarde en reëls wat konsekwent toegepas word met konsekwente aantekening van herkoms, afkoms en produksiemaatstawwe.

7.         Dit is waarom daar Telersgenootskappe is. Die belangrikheid vir hierdie strukture is voor-die-hand-liggend. Daarom ook dat die Diereverbeteringswet baie duidelike riglyne in hierdie verband neerlê.

8.         Onder hierdie Wet, kan 'n Telersgenootskap gestig word as daar minstens sewe telers is van 'n verklaarde ras en indien daar nie reeds 'n Telersgenootskap vir daardie ras bestaan nie. So 'n Telersgenootskap moet onder andere voorsiening maak vir:
-   'n Grondwet wat die gedissiplineerde bestuur van die Genootskap bepaal.

  • 'n Stel minimum rasstandaarde wat voldoen aan aanvaarde biologiese en ander norme wat die genetiese verbetering van die ras ten doel het.
  • 'n Registrerende Owerheid wat die aantekening van eienaarskap,geboortes, ouerskappe en die bou van stambome, geloofwaardig doen, ouerskappe verifieer en produksiemeting en evaluering aanmoedig.

9.         Telersgenootskappe wat op hierdie formele basis gestruktureer is met 'n Raad met bepaalde verantwoordelikhede wat demokraties verkies word deur opbetaalde lede, verleen legitimiteit aan die organisasie.
Geregistreerde teelbulle wat dus uit so 'n ordelik saamgestelde struktuur beskikbaar gestel word, verminder die risikos by die keuse van 'nteelbul en lei tot stabiliteit en vertroue. 

 

            Waar plaas hierdie reguleringsmeganismes vir my as beesboer in die praktyk?

1.         Die belangrikheid van 'n teelbul in enige kudde, stoet en kommersieel, kan nooit oorbeklemtoon word nie. Onthou: 'n koei dra by tot 50% van haar kalf se genetiese samestelling. Die bul dra egter by tot 50% van al sy kalwers se gene.

2.         Die beesboer se verantwoordelikheid in sy besluite oor watter bul om te gebruik, is dus van die uiterste belang en het uiteraard betekenisvolle ekonomiese gevolge.

3.         Dit is dus net logies dat 'n produsent alles moontlik sal doen om die regte besluit te neem by die aankoop van 'n teelbul.

Die suksesvolle mielieboer, kies vandag sy saad amper pit-vir-pit. Hy bepaal eers presies wat hy nodig het volgens sy spesifieke grondtipe en omgewing. Verder is die inligting beskikbaar op die saadkatalogus en kan hy dus hierdie inligting gebruik om volgens sy behoeftes en hulpbronne, grondtipe, reënval, ens. presies die regte saad aan te koop. Dieselfde geld ten opsigte van die toediening van kunsmis. Die risiko's is net te hoog om 'n kans te vat met 'n moontlike verkeerde keuse.

Dieselfde geld vir die beesboer. Hy kan in vandag se knyptang ekonomiese klimaat, eenvoudig nie bekostig om 'n "mogge-troffe" besluit ten opsigte van 'n bul te neem nie. Sonder die toepaslike onafhanklik geverifieerde inligting, raai jy as jy 'n bul kies en is dit inderdaad 'n "mogge-troffe" oefening.

Weens die voortdurende styging van insetkostes, is kommersiële boere dikwels onder die versoeking om ongeregistreerde kruisrasbulle te koop.

Die motivering is gewoonlik dat die bulle goedkoper is, mooi vertoon, aangepas is in die omgewing en gehard is.

Hierdie praktyk kan egter ernstige nadelige gevolge vir die boer inhou, want:

  • Jy koop bloot op sigwaarde. Daar kan dalk wel 'n paar gewigte beskikbaar wees, maar dit is alles net die dier se eie prestasie wat veral by eerste kruisings 'n groot element van heterose (basterkrag) bevat wat nie noodwendig oordraagbaar is nie.
  • Daar is nie teelwaardes beskikbaar wat beraam word deur ook die dier se ouers en ander verwantes (stamboom-inligting) se prestasies in ag te neem nie.

 

Kruisrasbulle is met ander woorde nie blootgestel aan die deeglik bewese waarde van wetenskaplik gefundeerde effektiewe diereverbeteringstelsels waaraan stoettelers deelneem nie, naamlik onafhanklike, geïntegreerde registrasie-, stamboom- en produksieaantekening stelsels met die BLUP-teelwaardes wat daaruit verkry word nie. Hiersonder is dit bykans onmoontlik om blywende genetiese vordering te verkry.

  • Die beraamde teeltwaardes van 'n jong bul, selfs sonder nageslag vir geboorte – en speengewigte, is nagenoeg 15-20 keer meer akkuraat as prestasietoetsindekse vir daardie eienskappe. Genomiese teeltwaardes sal waarskynlik nog 5-10 keer meer akkuraat wees.

 

Lank reeds vergete is die teenargumente wat wou beweer dat stoettelers net kyk na stambome. 'n Stamboom alleen het inderdaad weinig waarde, maar Stamboom-inligting met volledige gemete produksiewaardes wat onafhanklik verwerk word tot beraamde teelwaardes, is die enigste seleksiehulpmiddels wat permanensie aan enige teeltbeleid kan gee.
Sonder hierdie inligting raai jy en dobbel jy en dit is eenvoudig nie in vandag se ekonomiese toestande, goed genoeg nie.

Dit is ook 'n mite dat stoettelers kwansuis net na syfers kyk en nie die dier visueel evalueer nie. Elke Telersgenootskap het 'n stel rasstandaarde gebaseer op funksionele doeltreffendheid wat slegs visueel evalueer kan word. Dit word gewoonlik ook deur onafhanklike inspekteurs gedoen. Visuele evaluasie, sonder die rugsteun van onafhanklik verwerkte produksiedata, is netso riskant as om net na syfers te kyk.

  • Die waarde van 'n kruisrasbul as teeldier moet nie verwar word met die produksiewaarde van 'n kruisraskoei nie.

Verskeie navorsers het bevind dat die speenkalwers van kruisraskoeie, gemiddeld 13% swaarder is as dié van suiwerraskoeie van dieselfde rasse onder dieselfde omstandighede, terwyl kruisrasbulle geen bydrae tot die verhoging van speengewig in kommersiële produksiestelsels lewer nie.

  • Die mark verander voortdurend en kommersiële vleisprodusente moet hul produk hierby kan aanpas. Die vinnigste manier om dit te doen, is met die bulle wat jy gebruik. Omdat die stoetteler presies weet wat hy het sonder om te raai, is dit makliker vir die stoetteler om sy seleksieprogram by hierdie veranderende vraag aan te pas en bulle te teel wat die mark verlang.
  • Dit is ongelukkig te laat wanneer jy agterkom dat die kalwers van 'n kruisrasbul nie presteer soos wat die bul "gelyk" het nie!

 

Kry dus alle moontlike inligting voor jy besluit op 'n bul:

  • Bulle geregistreer op 'n onafhanklike databasis het 'n unieke registrasienommer en die dier se stamboom met sy voorgeslag se inligting, herkoms en produksie-inligting, is geloofwaardig beskikbaar - dus bewese waarde. Hierdie is waardevolle gereedskap in die produsent se gereedskapskas.
  • Ek lees die volgende aanhaling op die webblad van North Dacota State University: "The information of our various bulls' reports on the Society's database reflects bulls that are higher in birth weight and moderate in growth and milk. The centre also places more emphasis on marbling and even more pressure on rib-eye area. These selection criteria mean little or no assistance is needed for the cows calving on pasture. It also means the cattle have a practical frame package and excellent carcass traits."

 

Kortom:     Omdat die inligting beskikbaar is kan hulle in hul teeltbeleid volgens hul behoeftes, die eienskappe identifiseer wat aan hul behoeftes voldoen en deur seleksie daarvoor, hul doelwitte bereik.

Geregistreerde gemete bulle het 'n argief vol inligting wat nie net bewys dat die dier is wat van hom gesê word in 'n geverifieerde katalogus nie, maar jy hoef ook nie te raai of hoop wat hy gaan doen ten opsigte van die eienskappe waarvoor jy hom selekteer nie. Dit is geméét en : jy wéét nou dat hy nie meerderwaardig is ten opsigte van hierdie eienskappe net omdat hy per toeval (heterose) self hierin presteer het nie, maar meer nog, omdat hy dit weens oorerwing het weens doelgerigte seleksie.

In die vleisbeesbedryf is ons bevoorreg om net soveel inligting soos die saaiboer tot ons beskikking te hê, as ons by die regte plek koop.

Daar is genoeg bewyse van suksesse behaal met die gebruik van doeltreffende seleksiehulpmiddels soos produksiemeting en die logiese uitvloeisel daarvan, naamlik BLUP teelwaardes en nou ook in die nabye toekoms, genomiese teelwaardes.

Telersgenootskappe wat van SA Stamboek se dienste gebruik maak, se amptelik geverifieerde katalogusse, gee 'n aantal ekonomies belangrike eienskapwaardes waarvolgens 'n teler, as hy weet wat hy nodig het, met vertroue 'n bul kan uitkies. Hierdie gegewens is deur Stamboek as onafhanklilke diensverskaffer verwerk en geverifieer en is nie die verkoper se eie verwerkings nie. Dit is dus geloofwaardig en kan met groot vrug gebruik word as hulpmiddel in jou besluitneming.

Hierdie geloofwaardige inligting is slegs beskikbaar vir 'n bul wat amptelik onder die voorskrifte van die Diereverbeteringswet geregistreer is.

 

deur Dr P van Rooyen, SA Stamboek